BY: WILD & JAG Februarie 2014

Voëlgids ontsluit klank uit foto’s!


Voëlkyk was nog nooit so maklik en genotvol nie, danksy dié baanbrekerboek deur Saartjie Kidson en Herman van Niekerk. Hierdie uitsonderlike voëlgids, gebruik saam met die Klankleser®, lui ’n nuwe era vir voëlkykers in. Die Klankleser® bevat tegnologie om klank uit ’n foto te ontsluit. ’n Ingeboude geheuekaart bevat byna al die voëlklanke. Dis boonop verspot maklik om te gebruik: Jy rig bloot die Klankleser® op die foto van die voël en dan hoor jy die geluid wat hy maak! Asof sulke hedendaagse hoë tegnologie nie genoeg is nie, het hierdie volledige gids eienskappe wat die identifisering van voëls maklik maak, selfs vir kinders. Die groepering van voëlspesies is logies en prakties – volgens vier gedrags- of habitatgroepe: watervoëls, roofvoëls, veldlandskapvoëls en boom- en boslandskapvoëls.


’n Verdere klassifikasie is volgens die vorm van die geveerdes. Daarom is hulle naby mekaar in die boek geplaas, wat maklike vergelyking van spesies moontlik maak. Die unieke Profielgids, ’n indeks van eenvoudige sketse, help die gebruiker om verwarring uit te skakel. Ander uitsonderlike eienskappe van hierdie publikasie sluit in die tweetalige indeks of Dualdex en ’n alfabetiese lys van voëlgroepname in gewone taal. Vier inligtingsimbole help met die vergelyking van voëlsoorte om positiewe identifikasie te vergemaklik. Die simbole toon die voël se normale habitat en nesmaakgewoontes, relatiewe grootte en ook die sosiale gedrag aan. Briza het die mark met hierdie besonder verbruikersvriendelike alles-in-een voëlgids getref, een wat sakpas is vir huidige én toekomstige voëlkykers tussen nege maande en negentig jaar. 


“Alles omtrent die boek is maklik,” sê Reitz, “die identifisering, groepering, die feit dat jy die voël se geluid dadelik kan hoor, die interessante feite oor elke voël en dan natuurlik ook die verspreidingskaarte wat die nuutste data weergee.” “Die Klankleser® skep lewe uit die voëls se foto’s – uiteindelik ’n voëlboek wat die simfonieë van die gevleueldes tot ’n werklikheid bring,” sê Gerhard Verdoorn (aasvoëlkenner en natuurliefhebber). Ook in Engels beskikbaar as Sappi Birds of South Africa.

FEATURES
HOME     |     PRODUCTS     |     BIRDING TIPS     |     ORDER     |     MEDIA     |     BIRD CALLS     |     SPONSORS     |     CONTACT
Website Terms | Administration © Briza Publications - All rights reserved